
Daar is min dinge wat ‘n mens se hart laat bokspring van opgewondenheid [terwyl jy paniekbevange jou naels kou] soos die belofte van verandering. Die onsekerheid wat fisies manifisteer as sweterige handpalms, versnelde hartklop en ‘n flinder-maag, alles, terwyl jy doodeenvoudig nie die glimlag van jou bakkies kan afvee nie… uiterste saligheid.
Die kanse is goed, behalwe as jy op ‘n jaar lange ruimte sending was, dat jy teen hierdie tyd bekend is met die verandering rondom RAMfest: 5 stede, 5 dae, 7 verhoeë. Die nuus het, soos verwag, beide ongelukkigheid veroorsaak en afwagting geskep onder getroue aanhangers.
In ‘n poging om onduidelik te voorkom het ek met Dawid Fourie, besturende direkteur van Ramfest, gesels oor hoe die dinge in mekaar steek.
Michelle: Gee asseblief agtergrond rondom die ontstaan van RAMfest en wat die aanvanklike konsep daaragter was.
Dawid: Daar was ‘n baie lang tydperk wat daar geen rock festivals in die Kaap was nie. Ons het die droom gehad om ‘n festival te bou wat op local vlak met internasionale feeste kan kompeteer. Om die bands te bring wat ons en almal anders wil sien en ook die local ouens ‘n kans te gee om op wêreld-klas stages te speel. Ons het na baie feeste soos Download, Big Day Out ens. gegaan om te leer, teruggekom en RAMfest begin. Ons leer steeds elke keer en bou aan. Ons is nou eers 6 jaar oud en reeds in 5 stede oor die land.
Michelle: Hoe het die fees, sedert die ontstaan, gegroei in aantal aanhangers en hoeveelheid kunstenare? [Ook, hoe verseker die bestuur dat elke jaar die vorige jaar top?]
Dawid: Dit het gegroei vanaf die eerste jaar, 2007, met 1500 mense in die Kaap tot amper 30 000 oor 5 stede in 2012. Ons probeer elke jaar alles verbeter en om groter bands van oorsee af in te bring, maar ongelukkig vat die soort van goed bietjie tyd. Ons is egter vol moed dat ons binne die volgende paar jaar ‘n fees gaan hê wat mense reg oor die wêreld van gaan praat wat trots Suid-Afrikaans is.
Michelle: Aan watter kriteria moet plaaslike bands voldoen om die geleentheid te hê om by RAMfest op te tree en hoe gaan julle te werk om die internasionale acts te kies?
Dawid: Ons gaan gereeld uit en volg die local scene. Ons sien nuwe bands en hou hulle dop!
‘n Band moet ‘n following hê, moet ‘n goeie package wees en moet hulself hard druk om dit te maak in SA. Ons is bly om te sien hoe die scene elke dag groei. Die kwaliteit van die local scene is besig om wêreld klas te raak.
International bands is moeilik, hang af hoeveel geld mens het, wie beskikbaar is om uit te kom SA toe en dan natuurlik of ons hulle hier wil sien. Negotiations vat enigiets van 6 tot 8 maande om ‘n band te secure. Dis stresvol en as enigiets verkeerd loop dan ly die festival daaronder.

Michelle: Hierdie jaar merk die eerste keer wat Kaapstad se been ook slegs ‘n enkel dag event sal wees. Wat is die rede hiervoor en waarna streef julle in die langtermyn?
Dawid: Daar is ‘n paar redes hoekom ons die jaar ‘n 1 dag fees in Kaapstad het. Ons is die jaar die eerste keer in 5 stede en dis vir ons span onmoontlik om n 3 dag fees te reël en dan ook in al die ander stede te wees. Ook die international bands kon net 3 dae in SA wees. Wat dit onmoontlik maak om Kaastad en JHB op dieselfde tyd te hou.
Ons sal nog sien hoe ons dit in 2013 benader.
Michelle: Die webtuiste toon dat sommige stede – P.E. en Bloemfontein - nie die internasionale aanbiedinge sal geniet nie. Wat is die rede hiervoor?
Dawid: Omdat dit die eerste keer is dat ons na daai stede gaan, kan ons nie die risiko loop om daai tipe onkostes in P.E. en Bloem aantegaan nie. Ons moet eers sien of daar genoeg mense is wat ons kom support. Indien ons die jaar sien dat daar wel mense is wat ons support, sal ons kyk of ons in 2013 wel internationals daarheen kan neem.
Michelle: Wat kan verwag word van hierdie jaar se RAMfest buiten die bands en DJs?
Dawid: ‘n Moerse party!
Klink na ‘n lekker besigheid, nè?
Sien asseblief die program onderaan en kliek op die stede vir links na hul Facebook blaaie vir meer inligting rakende die tye en venues. Besoek ook gerus RAMfest se webtuiste vir besonderhede aangaande die beskikbaarheid van kaartjies, parkering en die line-up.
2 Maart 2012 Port Elizabeth
3 Maart 2012 Bloemfontein
9 Maart 2012 Durban
10 Maart 2012 Johannesburg
11 Maart 2012 Kaapstad 
Ter afsluiting, ‘n ope brief gerig aan die skrywer van dáái ketting e-pos uit die Vrystaat:
Liewe Barmhartige van Bloem - Beskermer van die Jeug,
Eerstens, wil ek u bedank vir die oorspronklike wyse waarop u lig gewerp het op die onderwerp van RAMfest. Die gerespekteerde musiekfees vier in 2012 sy 6de bestaansjaar en vir een of ander onbeskryfbare rede het geen van die organiseerders in die verlede daaraan gedink om wilde aantygings en valse beskuldigings te gebruik as promovering nie. Dis baie Hollywood van u. Ek wens meer plaaslike bemarkers wil soveel inisiatief aan die dag lê.
Dan, die goeie nuus is, nadat die UOFS skielik besluit het om die joolplaas onbeskikbaar te stel, het die vriendelike Vrystaters van die Mystic Boer hul deure vir die RAMfest span oopgemaak. Persoonlik is ek verheug daardeur vir twee redes. 1) Geen spontane donderstorm sal die aand se genot in die wiele ry nie en 2) na afloop van die gebeurtenis kan die partytjie skuif na enige van die horde kuierplekke in 2de Laan. Ek glo u is net so opgewonde oor die finansiële inspuiting wat hierdie vooruitsig vir die gemeenskap inhou.
Daar is wel ‘n stelling in ‘n epos wat my diep grief. Dit lui, “Einde laasjaar het God ‘n dringendheid op my vriendin en op my hart gedruk die woord moet uitgaan, oor hoe satan musiek en tv programme gebruik om kinders en grootmense in sy koningkryk in te trek.” Afgesien van die verwarrende sinsamestelling is ek baie bekommerd oor die ontwikkeling van die tieners waarmee u bekend is, me. Barmhartige.
Sien, RAMfest het ‘n streng beleid rakende die ouderdom van feesbywoners. Niemand onder 16 sal toegelaat word sonder dat hul deur ‘n volwassene vergesel word nie, maar te oordeel aan u uitgelatenheid neem ek aan u is reeds bewus hiervan. Persoonlik sal die ouderdomsbeperking toeskryf aan die feit dat kinders in die laat adolessensie fase minder egosentries is en ‘n toenemende begrip vir abstrakte waardes het. Dus nie die risiko loop om hulself te verloor in die musiek van “oorsese okkultiese en satanistiese groepe” nie, maar wees seker om u plaaslike sielkundige te kontak vir ‘n professionele opinie.
Net as ‘n laaste gedagte, van een Christen tot ‘n ander, onthou asseblief waarvan die Woord getuig in Exodus 20 vers 16 - “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie” en indien u sou vrees dat die “sataniste en illuminati beweging” ongestraf sou afkom, moenie.
“Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het, ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie.” – Exodus 23 vers 7.
Vriendelike groete
Michelle