Sowing the Seeds skiet wortel in die platteland




“Hierdie GPS het gelieg. Ek kan sweer hy het gister gesê dis 30 kilometer van Randburg af.”

Ons verlekker ons aan Woolies se garnale, maar veertig minute in, effe siek, wil dit voorkom asof ek die vorige aand teen my oogvelle vasgekyk het. Die pad Magaliesburg toe is minder besienswaardig as wat ek gehoop het. Voet in die hoek.

“Shit, wow!”
Die Fotograaf se nek ruk oor haar linkerskouer en sy wys in die rigting van ‘n prominent[erige] ingang. Die pad is stil genoeg vir onverantwoordelik wees. Ek reverse en interpreteer haar skeptiese halfglimlag as ‘n klop op die skouer.

Die aanmelding is pynloos.
“Yes, hi. Where should we park?”
Polse by die ruite uit sodat ons bandjies duidelik sigbaar is. 

“Just carry on straight. Over there.” 

Die man se arm rek in die rigting van ‘n effense koppie, die koppie in die teenoorgestelde rigting as waar ons aangewys word om tent op te slaan. Ons trek skouers op en soek parkering in die skaam skadu van ‘n doringboom.



Die son skyn genadeloos.
“Sal ons gaan loer hoe dit lyk - almal weet mens maak eers keel nat - voor ons die tent-opslanery aanpak?” 

Die Fotograaf stem in en gooi die kamerasak oor haar skouer. Die hoofverhoog is onmisbaar. ‘n Oranje Jagermeister trok wink uitloklik, maar ons hou verby. Die kroeg lyk belowend. Die keuses is beperk en die pryse bietjie kwaai, maar die hitte is ongenaakbaar.

Shortstraw is aan die beurt. Hulle aanbiedinge is energiek en ritmies, maar minder indrukwekkend as wat ek verwag het. “Mens moet jouself kondisioneer om laer verwagtinge te hê en sodoende probeer om teleurstelling te vermy”, herhinner ek myself. Afgesien van lewenslessies is dit lekker om te sit en luister sonder om te dink. 

“Ek dink ons moet na Wrestlerish ons tent gaan probeer opslaan.”

“Ysterpale”, “Tentpenne”, “Sesman met afdak en seil”.
Die Fotograaf se woorde laat my sidder.





The Brother Moves On betree die verhoog. Ek staan en staar oopbek en verward. Die groep, asof uit ‘n Dalene Matthee toneel besetting, bons barbaars rond. Die sanger, effens androgien in sy oopgeknoopde katpak, sweep die gehoor op met pynsende kletsrym kore. ‘n Skoenlapperman sluit by die groep aan en rammel ‘n rympie af. Visueel word ek vermaak, maar musikaal is die glas halfleeg. Ek mik in die rigting van die kroeg vir ‘n hervulling.

“Sorry, sorry sir!”
‘n Oom in ‘n khaki hemp gluur vanuit sy Jeep. 

“Is this the shuttle service?” 

“I guess so…” 

Ek wonder vir ‘n sekonde of hy sarkasties is, maar besef dat oor-analisering nie die kampgereedskap teen die built gaan uitdra nie.

“Perfect!”

Hy sit ewe gedweë en kyk hoe ons die bagasie laai.



Wrestlerish verskyn op die verhoog. Ou staatmakers dié. Verliefdes staan nader terwyl enkelopendes vertroosting gaan soek in die koelte van die Jagermeister trok. Die band se emotiewe liriese inhoud doen ‘n beroep op ‘n nismark terwyl hul klanke kommersieel genoeg is vir die radio. Gunstelinge soos Oliver Tambourine en Bodies of Water laat mooi meisies hul rokkies ritmies swaai.  



Jeremy Loops se reputasie loop hom vooruit. Die Kapenaars spog al ‘n geruime tyd met sy musikale vernuf. Sy onderbaadjie lyk te klein, maar sy oorgroot kniebroek balanseer dit uit. Amusante kalant. Met sy bekfluitjie en bokskitaar is hy van te ware ‘n Troebadoer. Hy word vergesel met ‘n man op ‘n blaasinstrument. Die opgeruimde folk aanbiedinge het almal op hul voete en in vervoering tot en met die laaste noot.
 
Die son sak en ons kry ‘n nuwe asem te danke aan ‘n bord waterige potjiekos, samoosas en iets wat lyk soos ‘n palony pizza. Die Bittereinder trio beïndruk keer op keer. Nie net het hulle daarin geslaag om in rekordtyd een van ons land se mees opspraakwekkende bands te word nie, maar hul haarfyn besigheidsbeplanning stel hulle instaat om ‘n produk as geheel te lewer. Peach van Pletzen en Louis Minnaar bons bebaard en half besete agter hul mengtafels rond terwyl Jaco van der Merwe breine breek met sy, soos hulle sê, ‘skillz’ as rapper. Dis ‘n wenresep dié.


  
Die weer laat van haar hoor, maar ons skoffel die stof staande op Desmond and the Tutus voor die druppels neer plots. Hulle bly ‘n gunsteling by feeste die land oor. ‘n Kombinasie van ou en nuwe snitte sorg vir ‘n diverse vertoning en dui om hul musikale progressie as band. Indie is lank nie dood nie.





Die Beat Boma, ‘n lapa met ‘n DJ, lyk vir ‘n oomblik soos ‘n goeie idee, maar na ons, ons ore aan die musiek - wat heet uit die 90’s - leen, het ons besluit om te gaan sit. Die aand ontrafel op die ritme van Shadowclub, Goldfish en PH Fat. Met die oggend blote ure weg, word die tent oopgezipper vir ‘n welverdiende slapie.

Dis Sondag. Ek dop uit die tent voor die hitte my uitforseer. Gehurk en besig om tentpenne uit te trek wonder ek of Sowing the Seeds waarlik as ‘n ‘teaser event’ vir Rocking the Daisies beskou kan word. Niks hier dra die groen stempel van eko-vriendelikheid nie, maar dit skeel my min, want die platteland is groen genoeg.

*Foto’s © Letitia Lerm